Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

KYK: ‘God het dubbel en dwars teruggegee wat die duiwel kom steel het’

In 2021 het ons gesin besluit om na Worcester te verhuis. Dit was van altyd af my droom om in die Wes-Kaap te woon.

Nicola van Wyk maak haar hart oop en deel haar getuienis nadat haar man twee jaar lank aan tik verslaaf was voordat sy uitgevind het wat presies haar man in ‘n monster verander het.

Hierdie droom is bewaarheid toe my man Tiaan (nou 37) ’n geleentheid gekry het om op ’n plaas te werk. Ek en die kinders het in Worcester gewoon, en Tiaan het elke tweede naweek huis toe gekom.

Ons het nooit huweliksprobleme gehad nie. Ons was gelukkig getroud. Tiaan was ’n goeie man en pappa.

’n Paar maande het verbygegaan en ek het ’n leemte in my gevoel wat ek vir niemand kon beskryf nie. Ek het besef dat ek God nodig het en ek het gebid dat Hy my by die regte kerk sal plant. Ek het uiteindelik by die Christian Revival Church (CRC) in Worcester aangesluit. My lewe het verander.

LEES OOK: ‘Ek het weer besef hoe groot God se genade is,’ vertel gewese dwelmslaaf wat saam met sy dogtertjie gedoop is

Ek was so honger vir Jesus … En Hy het my kom vul met die Heilige Gees. Ek was nooit weer dieselfde nie.

Dit was egter in daardie stadium dat my hele lewe inmekaargetuimel het. God het egter reeds geweet waar ek moes wees en dat ek Hom nodiger as ooit sou hê.

’n Monster in my huis

My goeie man en die goeie pappa vir ons kinders het in ’n monster verander. Ek kon nie verstaan wat aangaan nie. Ek het vir die Here gevra: “Wat nou? Dinge is veronderstel om beter te gaan, en nou is dit die slegste ooit!”

My man het ’n soort aggressie ontwikkel wat ek nie geken het nie. Ek was voorheen bewus van mense wat soortgelyke dinge beleef het, en ek het altyd gesê dat ek dankbaar is dat ek so ’n goeie man het. En toe kom steel die duiwel my huwelik.

In ’n oogwink was ek met ’n vreemdeling getroud. Ons, ek en die kinders, het ’n heilige vrees vir hom ontwikkel. As ons hom hoor stilhou by die huis kon ek die vrees in my kinders se oë sien. Ons het sommige aande tot laat in die strate rondgery omdat ons te bang was om huis toe te gaan.

Dit was nie eens moontlik om ’n bord kos saam te eet sonder dat hy op ons geskree het nie. Hy het maer geword. Ek kon sien hoe my man se gesondheid verswak. En ek het nie geweet wat aangaan nie.

In hierdie tyd het ek na my familie uitgereik. Niemand het my egter bygestaan óf geglo nie, omdat hulle geweet het watter goeie mens Tiaan altyd was. Ek het die skuld vir alles gekry. As ek nou daarop terugkyk, kan ek sien dat God geweet het Hy moes hulle vir ’n tyd uit my lewe haal sodat ek net op Hom aangewese sou wees.

Die keerpunt

Dit het twee jaar lank so gegaan. Ek het daagliks voor God ineengestort, aan Hom vasgehou en voluit vir Hom geleef. Ek kon nie anders nie.

Hy het my in daardie tyd stuk vir stuk opgebou, my karakter gevorm, en ek het baie na aan Hom geleef. Hy was al wat ek gehad het, en dit was my redding. In die dae wat ek nie verder kon nie, het Hy my krag gegee.

Hy het soveel dinge in my lewe laat gebeur. Deur die moeilikste tyd in my lewe en tussen al die chaos deur het ek God se goedheid op ’n heel ander vlak ervaar. Hy was elke dag by my.

In ’n stadium het ek besluit om te skei. Ek kon net nie meer die seer aanskou wat my kinders moes deurmaak nie. Ek het egter nooit vrede gekry oor ’n moontlike egskeiding nie.

Eendag, terwyl ek gebid het, het die Heilige Gees aan my gesê dat ek nie teen Tiaan moet baklei nie, maar teen die vyand. Jesus het my die insig gegee om Bybelverse te leer, want dit was hoe ek die vyand sou oorwin. Hy het my daaraan herinner dat Hy die vyand presies só oorwin het tydens sy versoeking in die woestyn.

Dit was die keerpunt. Ek het begin terugbaklei.

‘Ek het hulp nodig’

My man het vir die Paasnaweek (dit was in 2023) huis toe gekom. Sy gemoed was nie goed nie. Ek het hom uitgelos en nie met hom gepraat nie. Hy het vroeg gaan slaap, want hy was altyd moeg as hy by die huis was.

Toe het die Heilige Gees my na sy kamer gelei. Ek het hom gevra: “Tiaan, jy steek iets vir my weg, en jy sal my moet vertel wat aangaan.” Ek het drie keer dieselfde vraag gevra.

Hy het verskriklik begin huil, en toe kom die antwoord: “Ek is verslaaf aan dwelms en ek het hulp nodig.”

Ek het daardie aand soveel vrede ervaar dat dit vir my vreemd was. Nou maak dit egter sin. En het besef God het my daarop voorberei, my sterk gemaak.

Tiaan is in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem waar hy vyf weke lank behandeling ontvang het. Ek was so opgewonde toe hy ontslaan is! Ek het gedink alles sal weer na normaal terugkeer, sal weer wees soos wat dit altyd was.

Ek was verkeerd. Hy was steeds aggressief en het aanhoudend met ons baklei. Ek het by die Here se voete gesit en huil. Ek kon net nie meer nie.

Tiaan het teruggekeer na sy werk op die plaas. Dit het baie sleg gegaan tussen ons. Ek het ’n dokter gaan spreek en hom vertel wat aan die gebeur was. Hy het aan my verduidelik dat Tiaan aan ’n soort psigose ly. Dit word deur ’n chemiese wanbalans in sy brein veroorsaak weens die middels wat hy gebruik het.

Die dokter het vir my medikasie voorgeskryf. Twee dae later het Tiaan weer ’n uitbarsting gehad. Ek was moedeloos, weer op ’n punt waar ek net wou skei. Steeds het God my nie daarmee vrede gegee nie.

‘Kom na My toe …’

Op ’n dag het Tiaan se werkgewers my gebel en gesê hulle sukkel om Tiaan wakker te kry. Ek het onmiddellik gedink dat hy weer teruggeval het, dat hy ’n oordosis dwelms gebruik het.

Ek was kwaad en seergemaak. Dit het gevoel asof die nagmerrie net nooit sou ophou nie.

Uiteindelik het hulle hom wel wakker gekry, hom laat toets … en die uitslae was negatief.

Tiaan het my gebel, maar ek was so kwaad dat ek skaars wou luister. Hy het gevra dat ek hom ’n kans moet gee om te verduidelik. Daarop het hy my vertel dat hy na God geroep het om hom te help, want hy kon net nie meer nie. Hy het voor Hom ineengestort, waarna hy in ’n diep slaap geval het.

Ná hierdie insident was my man volkome genees. Hy het weer die man geword wat ek geken het. Hy het ’n pad saam met God begin stap. En nou is daar geen keer aan hom nie: Hy is honger vir Jesus, hy dien in ons kerk. Soms word ek in die nag wakker en vind hom besig met Bybelstudie. Ek sien hoe hy tyd saam met God deurbring.

Op ’n dag het God vir Hom gesê hy moet sy werk bedank, dat Hy na hom sal omsien. Tiaan het toe bedank en sy kennismaand gewerk. God het regtig na hom omgesien en hy het ’n goeie werk in die dorp gekry. Daar is vir hom ’n pos geskep. Hy is nou voltyds by ons, sy gesin.

Een van die teksverse wat my gedra het, is Matteus 11:28-29: “Kom na My toe julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en ek sal julle lewe verkwik. Neem my juk op julle skouers, kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry” (NLV).

Hy het alles kom regmaak

Ons is soms geneig om in die sogenaamde groot seëninge vas te kyk, maar God ontmoet ons waar ons is en met wat ons het.

So was dit met die pannekoek wat ek deesdae bak. Op ’n dag, nog tydens my man se reis met verslawing, moes my kind ’n rugbywedstryd in die Kaap gaan speel. My beursie was leeg. Die Donderdag voor die wedstryd, in my motor op pad skool toe, bid ek en sê vir God dat ek bereid is om enigiets te doen. Hy moet my asseblief wys wát.

Kwart voor twee het ek by die skool stilgehou – en net daar sê die Here vir my: “pannekoek”. Ek het nog nooit in my lewe pannekoek gebak nie. Ek het nie eens ’n resep of die regte pan gehad nie. Ek het ’n advertensie uitgestuur en op God vertrou. Geld vir bestanddele was daar ook nie.

Teen vyfuur daardie middag het ek ’n resep gehad, twee panne, ’n gasbottel. Genoeg geld in my rekening vir die bestanddele. En 400 pannekoeke op bestelling.

Twee vroue het my kom help, sonder om vergoeding te verwag. Ek het soveel komplimente gekry! Daar was genoeg wins om my kind by sy wedstryd te besorg én om die res van die week te oorleef.

Sedertdien is pannekoek my “go to”.

God het my lewe verander. Hy het alles kom regmaak, en dubbel en dwars teruggegee wat die duiwel gesteel het. Dit het twee-en-’n-half jaar geduur, want Hy moes eers my karakter bou. Hy moes sorg dat ek deur die meule gaan sodat ek in my roeping kon instap.

Ek het as ’n ander mens anderkant uitgekom. Ek het nou ’n veel dieper verhouding met Hom en ek weet dat ek enigiets sal kan trotseer, want ek weet waartoe my God in staat is.

Ek is dankbaar vir elke traan en elke bietjie seer, want ek is nou só sterk dat die vyand my nooit weer sal kan breek nie.

* NICOLA VAN WYK (36) was eers ’n naeltegnikus en is nou ’n tuisbly-mamma. Sy en haar man Tiaan (37) en hul kinders Ryan (11) en Carol-Ann (7) woon in Worcester. Hulle het ’n baie bedrywige lewe en geniet dit om naweke saam deur te bring. Nicole is ’n bobaas pannekoekbakker wat hul gesin se inkomste op dié manier aanvul. Die hoogtepunt in haar week is om Sondae saam met haar gesin kerk toe te gaan. Sy en haar man tree daar as plekaanwysers op. Hulle dien soos Jesus hulle geleer het om te dien.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.