Wat as ek alles vir my werk gee, en daar bly niks vir my kinders oor nie? My tyd en my brein en my gedagtes, my passie en my deursettingsvermoë.
Wat as ek alles vir my kinders gee, en my werk ly daaronder? Of miskien gee ek dan maar alles vir hulle, maar wat bly oor vir my man? As ek al my lag en my speel, my geduld en my liefde sommer net gee.
En sê nou maar daar bly niks oor wanneer ek aandete voorgesit het, en skuldig gevoel het omdat dit nie so ‘n gebalanseerde ete was as wat ek myself voorgeneem het nie?
Wat as ek eerder onder my bed wil gaan wegkruip as om kinders te bad en alweer met tandeborsels te stoei? En wat as ek slaaptydstories op auto pilot doen, en mis hoe sag my dogtertjie se wang teen myne lê. Hoe woelig my seuntjie is sodat hy net by mý wil wees?
Wat as daar net skuldgevoelens oorbly as ek terugkyk op ‘n dag waar ek alweer nie my humeur kon beteuel nie? Of wat as ek nie meer wysheid oor het om my kinders reg te dissiplineer nie, en te leer waaroor die lewe regtig gaan?
Wat as daar niks oorbly nie?
Sommige dae is dié vraag ‘n wanhopige uitroep. Maar ander dae sien ek dit raak: Dat ‘n leë mamma by verre die geseëndste is.
Want by niks-wat-oorbly-nie, leer ken jy vir Jesus. En sy genade wat genoeg is. En sy krag wat jou saggies kom dra juis wanneer jy swak is.
Want by niks-wat-oorbly-nie, gryp jy na Hom wat jou uitnooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is …” Ja, almal wat leeg voel, en rus nodig het. En jy leer om ‘n juk op te tel wat nie joune is nie. En jy leer Hom ken. Hy wat sagmoedig en nederig van hart is, wat rus gee vir ‘n ma-gemoed.
O, en ‘n mens leer, en roep soms eers wanneer dit te laat is. Maar jy leer ken die smaak en die gevoel, die werklikheid en die nodigheid van daardie krag waarvan Dawid sing:
“Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee.” – Psalm 138:3