As jy aan onvrugbaarheid ly, kan geleenthede soos babatees moeilik wees om by te woon. Dit is reeds uitdagend genoeg om gekonfronteer te word met swanger vroue, swangerskapsaankondigings op sosiale media of soms net babas in die algemeen. Elkeen is ʼn konstante herinnering aan jou eie onbeantwoorde verlange.
Aan die begin het ek baie spesifieke opinies gehad oor hoe ʼn mens ander se geluk behoort te hanteer. Dit was vir my ononderhandelbaar – ek moes altyd in staat wees om my eie gevoelens eenkant te bêre en ander se mylpale saam met hulle te kan vier. Ek wou ʼn goeie voorbeeld stel en wou boonop aan ander doen soos wat ek aan myself gedoen wou hê. Ek het vertrou dat ek ook eendag ʼn beurt sou kry om swanger te wees en dan sou ek wou hê dat ander mense vir my bly moes wees.
Babatee sonder jou eie baba
Aanvanklik het my plannetjie goed gewerk. Ek kon redelik suksesvol vir ʼn wyle van my eie omstandighede vergeet en met oorgawe deel in vriende en familie se vreugde. Die teenoorgestelde was net nie vir my ʼn opsie nie. Ek het gedink as ek erken het hoe ek werklik voel, sou ek uiters selfsugtig wees. Ek wou nie toelaat dat ek so selfbehep raak en fokus op my eie probleme dat ek nie opgewonde kon wees vir ander nie.
Eintlik was daar vele kere wat ek nie lus was om vir mense geluk te wens met hulle swangerskap nie, maar as ek dit sou erken, sou mense kon sien hoe jaloers ek eintlik is. En dit sou myns insiens onvolwasse wees. Ek was baie streng met myself.
My benadering het toe nie lank gehou nie. Dit was nie dat ek nie kon bly wees vir ander mense nie, maar hulle deurbrake het my herhaaldelik herinner aan hoe ver ek nog van myne af is. Ek kon nie vergeet van my eie situasie nie. Ek was hartseer, het begin vrae vra en wou ook hê wat ander oënskynlik so maklik uit die Here se hand ontvang het.
Ten einde steeds te probeer oorleef (want die lewe gaan aan ongeag my eie seer), het ek begin deur myself emosioneel voor te berei vir babatees. Ek het weke voor die tyd myself begin moed inpraat. Saam met elke geskenkie het ek vir ons toekomstige babatjie ook iets gekoop. Dit het later ook nie meer gewerk nie. Elke geleentheid het my meer en meer emosioneel uitgeput. Na elke babatee het ek vir dae lank gehuil. Francois het my telkens gevra waarom ek dit aan myself doen, maar ek het net gevoel ek kan nie my vriendinne in die steek laat nie. Wat sou hulle van my dink? Ek was so bang om swak te lyk en deur my hartseer verower te word.
Omstandighede het my egter gedwing om strategies te begin raak. Dit het begin by ʼn goeie idee wat die Here vir my gegee het. Om babaklere en –items te koop was vir my so moeilik. Ek wou so graag my eie babatjie hê om aan te trek (ek is versot op babaklere!). So, in plaas daarvan om items vir die baba te koop, het ek begin om bederfpakkies vir die ma op te maak. Enige iets van warm sjokolade tot springmielies, gesigmaskers, sokkies en badsout. Dit was makliker geskenke om te koop en ook iets buitengewoon.
Hierdie idee het my laat voel dat ek maar my eie reëls mag opmaak. Later het ek verskeie ander benaderings gevolg. Op ʼn stadium het ek nodig gehad om te vra of ek my finale RSVP kan reserveer tot die dag voor die tyd. En dan was daar tye waar ek besluit het dat ek vir ʼn geruime tyd nie enige sulke tipe geleenthede sou bywoon nie. My besluite was bevrydend en alhoewel nie almal ewe goed verstaan het nie, het ek besef dat ek nie swak is wanneer ek eerlik is oor my gevoelens nie. Inteendeel, dit neem baie durf. Sodra ons eerlik raak oor wat ons voel en hoekom ons dit voel, is dit ook ʼn geleentheid vir die Here om aan ons te kom openbaar waar ons genesing nodig het.
Ek erken dit. Ek was soms so jaloers en afgunstig, dit was nie eers snaaks nie. Die Woord is duidelik hieroor en ek het geweet dit was iets wat ek moes uitsorteer en na die Here toe neem. Dit behoort nie ʼn rede te wees waarom ons wegbly van ander se gelukkige geleenthede nie, maar om te sê “ek sien net nie kans nie” beteken jy ken jouself goed genoeg om te kan verwoord wat jy nodig het. Daar is ʼn groot verskil tussen selfsug en selfsorg. Wat ʼn verligting dat ons maar die Here mag vra vir strategieë rondom laasgenoemde – ook tydens onvrugbaarheid!
Geskryf deur Jackie van Wyk.
Hierdie is deel van ‘n reeks oor onvrugbaarheid. Ander artikels in die reeks: