Die voorafbeplande selfdood van vermaaklikheidster Ian von Memerty het dié hartseersaak weer op die voorgrond geplaas. LiG het met iemand gesels wat met die tragiese selfdood van haar geliefde moes vrede maak. Ook sý dood was waarskynlik beplan, alhoewel hy dit nooit vir enigiemand vertel het nie.
Foto: Facebook
Ian von Memerty was 61 jaar oud toe hy op 23 Februarie vanjaar sy lewe in ’n Johannesburgse hotel beëindig het. Hy het voor sy dood hierdie voorgenome aksie as “selfbevryding” beskryf.
Die dood van dié bekende persoonlikheid in die vermaaklikheidsbedryf het die aandag gevestig op die kwessie van selfdood en, in hierdie geval, soos hy daaroor gedink het, selfbevryding.
Ian se besluit was nie impulsief nie; hy het 18 maande lank aan sy optrede beplan. Hy het sy reis, “Dying for a better life,” in 15 video’s met sy volgelinge op sosiale media gedeel.
Hier het hy impulsiewe selfdood beskryf as ’n daad waarin daar min voorsorg getref word vir diegene wat agterbly. En daar is, volgens hom, dikwels geen verduideliking wat naasbestaandes help om afsluiting te kry nie.
Hy het heel anders te werk gegaan; hy het alles deeglik beplan. Hy het alle reëlings oor wat ná sy dood moes gebeur betyds getref. Sy testament was op datum en daar was boodskappe aan sy geliefdes.
LEES OOK: ‘My hart is flenters,’ sê ma oor 12-jarige se selfdood ná boeliegedrag
Ian het geglo in elke mens se reg om te sterf soos hy of sy dit wil hê. Die manier waarop sy ouers gesterf het, het hom diep geraak. Sy pa Alex het ’n beroerte gehad, waarna hy ’n verdere 14 jaar met die komplikasies daarvan moes saamleef. Ma Lorraine het jare lank aan demensie gely voordat sy op 95 oorlede is.
Ian het sy besluit om homself om die lewe te bring geregverdig deur sake te noem soos die weerloosheid wat ouderdom bring, finansiële druk, en die kommer dat hy later ’n oorlas vir iemand anders sou word. Daarom was hy daarvan oortuig dat hy die reg gehad het om self oor die einde van sy lewe te besluit.
Nog ’n verhaal
Corlia Marais* (61) vertel van die pad wat sy met haar lewensmaat gestap het tot met sy selfdood op 15 September 2018. “Ons was 22 jaar lank ’n paartjie,” sê sy, “en alhoewel Clifford* erge gemoedskommelings beleef het, was ‘bipolêre gemoedsteurnis’ in daardie stadium nie juis ’n gonswoord nie. Hy sou dikwels onverantwoordelike besluite neem, net om daarna in ’n diepe depressie te verval.”
Een aand in Februarie 2000 het hulle van ’n geselligheid af teruggery huis toe. Corlia het bestuur. Sy vertel: “Uit die bloute het hy gesê dat hy uit die motor gaan spring. Ons was op die snelweg en ek kon nie dadelik stop nie. Hy het sy deur oopgeruk en uitgespring terwyl ek teen die maksimum snelweg-spoed gery het.
“Toe ek die motor uiteindelik tot stilstand bring, het hy ver agter in die pad gelê. Ek het gedink hy is dood. Sy lyf het teen ’n vreemde hoek gelê. Ek het hom uit die pad gesleep voordat die polisie en brandweer opgedaag het. Hulle het hom na die Groote Schuur-hospitaal toe geneem.
“Ek was heeltemal gedisoriënteer en het siek gevoel. Daardie nag is ’n breinoperasie op hom uitgevoer. Hy was weke lank in die hospitaal en het soos ’n ou man gelyk toe hy weer by die huis kom. Hy was maar 40, en het erken dat dit ’n selfdoodpoging was.”
‘Hy moes dit lankal beplan het’
“Ek het sy vreemde gedrag ná die voorval aan sy breinbeserings toegeskryf. Sy gemoedstoestand was onvoorspelbaar en dit het baie spanning in ons gesin veroorsaak. Ek het die huis verskeie kere verlaat, maar altyd teruggekeer omdat ek geglo het dit sal beter gaan. Ek was bitter lief vir hom.
“In 2015 het ek finaal uitgetrek en my eie woonplek bekom. Nadat Clifford in ’n nuwe woonstel ingetrek het, het hy nooit sy klere uitgepak of sy televisiestel gekoppel nie. Ons was steeds in ’n verhouding, maar ek was baie minder angstig. My nuwe onafhanklikheid was vir my belangrik.
“Clifford het ’n baie besonderse horlosie gehad. Ek het een aand spottenderwys aan hom gesê dat hy dié horlosie eendag aan my moet bemaak. Daarop het hy dit afgehaal en gesê dat ek dit moet neem. En bygevoeg dat hy nie meer lank hier sou wees nie.
“Hy het dus toe al probeer om my op sy selfdood voor te berei; hy moes dit lankal beplan het.
“Ek het psigiatriese hulp voorgestel en probeer tyd koop met die belofte dat ek weer by hom sou intrek. Hy was egter ontoeganklik en wou nie eintlik met my praat nie. Steeds het ek nie geglo dat hy dit werklik sou doen nie …
“Op daardie noodlottige dag sou ons ’n troue bywoon. Ek het hom verskeie kere in die loop van daardie week probeer kontak, sonder sukses. Ten einde laaste het ek na sy woonstel toe gery. Die voordeur was oop. Dit was vir my vreemd; hy was baie bedag op veiligheid.
“Ek onthou dat die woonstel donker was, en dat sy bed opgemaak was. Toe het ek hom gesien waar hy leweloos op die badkamervloer gelê het.
“Hy het 18 jaar gewag op ’n tweede selfdoodpoging.”
Sagte woorde oor selfdood
“Ek wens niemand dié soort ondervinding toe nie. Om die mens wat jy liefhet só te sien …
“Al was ek aanvanklik baie kwaad vir Clifford, weet ek hy was moeg, hy wou Huis toe gaan.
“Toe ek op ’n keer ná sy dood in die kerk kom, het ek gesorg dat ek heel agter sit sodat ek kon opstaan en loop as dit nie vir my lekker was nie. Ek was kwaad, bitter. Die predikant se boodskap daardie oggend was vol sagte woorde oor selfdood. Dit was woorde wat, so het dit vir my geklink, direk uit God se hart gekom het. Uiteindelik! het ek gedink. Uiteindelik het iemand dit verwoord wat so diep in my lyf gelê het, en ek kon die vrede kry wat ek so nodig gehad het.”
Wat sê die kundiges?
Volgens dr Gert Pretorius, ’n sielkundige in Durbanville, is Ian von Memerty se selfdood ingewikkelder as selfdood in die algemeen. “Die verstaan daarvan is sekerlik ook anders, en dit vra ons om meer dinge raak te sien. Dit kan sake soos beheer wees, en intensiewe beplanning, en die bevryding wat eie beheer na vore bring.
“Die dood ontstel ons altyd,” sê Gert, “of ons dit die eerste keer ervaar of herhaaldelik. Algaande besef ons dat dit ’n integrale deel van die lewe is. Niemand gaan dit vryspring nie. En soms kies iemand sy of haar eie uitweg.”
Hoe moet Christene oor selfdood dink?
Ds Chris Heunis is ’n pastorale berader. Hy is daarvan oortuig dat niemand die reg het om ’n ander te oordeel nie. Ook nie wat lewensbeëindiging betref nie. Hy haal Jesus se woorde in Johannes 3:17 aan: “God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.”
Chris sê: “Daar kleef dikwels ’n stigma aan selfdood omdat mense moeilik vergewe. Ons moet weet dat die wêreld vol stukkende mense is. In plaas van oordeel en veroordeel, moet ons eerder ’n veilige ruimte skep vir mense wat worstel met die lewe en met die uitdagings waarmee hulle te kampe het.”
* Skuilnaam
- Enigiemand wat emosionele uitdagings beleef, moet weet dat daar gratis hulp beskikbaar is by:
SADAG Suicide Crisis Line – 0800 567 567
Lifeline South Africa – 0861 322 322
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















