Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

#liggetuienisse: ‘God is die antwoord op alles’

Wanneer jy sommige #liggetuienisse op ons webwerf lees, staan jy verstom oor hoe gebroke mense dit regkry om te kan opstaan en vol hoop voort te leef. Jy vind gou uit dat hulle op ’n dag besef het dat slegs God die leemte in hul lewe kan vul.

Getuienisse stroom van oraloor na LiG toe aan. Uit Bronkhorstspruit en Lydenburg en Hartswater en die Boesmanland en baie ander plekke, en selfs vanuit Rusland, vertel gewone mense hul verhale. In die meeste van dié getuienisse word die gebroke werklikheid waarin ons leef skrynend sigbaar.

Maar die manier waarop hierdie mense dit regkry om op te staan en weer hoop te soek, laat my altyd verwonderd. Dis baie duidelik dat almal iets baie spesifiek in gemeen het: Hulle het ontdek dat hulle slegs saam met God die pad na genesing kan stap.

Ware vryheid

Die 71-jarige Marietjie Viljoen van Bapsfontein stel dit so mooi: “Ek het altyd gedink drank bring bevryding; nou weet ek wat ware vryheid is.”

Dié gerehabiliteerde alkoholis het jare gelede saam met haar man begin drink. Dit was ’n geval van “if you can’t beat them, join them”. Later het nie een van haar geliefdes meer kans gesien vir haar en haar allesoorheersende dranklus nie.

Marietjie het ’n klomp keer by ’n rehabilitasiekliniek aangemeld; die behandeling het egter nooit geslaag nie. Inteendeel, sy het ná elke mislukte poging net meer gedrink. Toe kom die keerpunt. Sy vertel: “Tydens my laaste rehabilitasie-poging het ek besef dis nou of nooit. Ek het toe reeds etlike kanse gehad, ek kon nie dié keer ook misluk nie …

“Daar was ’n groeiende hunkering in my hart om die pad na genesing saam met die Here te stap. Ek het die begeerte gehad om Hom beter te leer ken en Hom deel van my lewe te maak.

“En dié keer het die Heilige Gees die leemte in my binneste gevul. Ek het geleer om Hom ten volle te vertrou, vir elke uitdaging en vir elke oorwinning.”

Arine Helmand, eens ’n prokureur in Pretoria, getuig dat sy eers ná 17 jaar as dwelmverslaafde besef het dat sy nie sonder God kan gesond word nie. Ná tien maande in die tronk en 12 rehabilitasiepogings het sy haar by ’n rehabilitasiesentrum in Nigel aan die Here oorgegee. “Ek het vasgehou aan Joël 2:25: ‘I will restore to you the years that the swarming locust has eaten.’

“Ek het gebid dat die Here my lewe volledig moet omkeer,” sê sy. Vandag is sy reeds meer as twee jaar lank ’n berader by Freedom Recovery Centre in Nigel. Sy sê sy leef ’n gebalanseerde lewe, en binne God se plan vir haar.

“Te midde van dit alles weet ek vir seker: Sonder God kan jy nie van so iets herstel nie; daar is nie ’n lewe sonder Hom nie.”

Die bekende rolprentman Regardt van den Bergh getuig dat hy 38 jaar gelede sy lewe omgedraai het nadat God sy hart aangeraak het. Hy vertel hoe hy een Sondag sy dogtertjie by die Sondagskool afgelaai het. Hoe hy toe steeds halfbesope was ná die vorige aand se gekuier.

Iets aan die onskuldige kind wat omgedraai en vir hom gewaai het, het hom so diep geraak dat hy na die naaste kerk toe gery het. Daardie dag het hy sy hart vir die Here gegee.

Regardt erken dat die oorgang van sy ou lewe na ’n nuwe een besonder moeilik was, maar hy het nooit teruggekyk nie. Ná al die jare is hy steeds sober.

Wanneer jy rou, én hoop

Die ondenkbare pyn wat ouers ervaar wanneer hulle ’n kind aan die dood afstaan, bring die vraag: Hoe vind sulke mense weer hoop?

Die bekende Oekraïense sendeling Michele Potgieter kén swaarkry en verlies. Haar man Ockert is in 2019 ná Covid-19-komplikasies oorlede toe hulle met vakansie in Suid-Afrika was. Sy het destyds dié swaarkrypad met LiG-lesers gedeel.

Aan die einde van 2025 is haar enigste dogter Mari-Alena, ná ’n kankerstryd, op 24 oorlede. Ma en dogter moes voor Mari-Alena se dood die erge konflik in Israel trotseer sodat sy immunoterapie in Tel-Aviv kon ontvang.

Te midde van hierdie bittere swaarkry en hartverskeurende verlies is Michele se geloof, en die manier waarop sy haar swaarkry dra, bewonderenswaardig. Sy beantwoord elke joernalis se vrae, en sluit telkens ’n antwoord af met: “Ek waardeer jou so baie.”

Sy het onlangs die volgende op Facebook geskryf: “Dit is soms steeds onhoudbaar moeilik, en die pyn is oorweldigend. Maar ek klou vas aan God se Woord. Hy ontmoet my in my hartseer en troos my. Hy herinner my daaraan dat rou nie sonder hoop is nie.”

Sylvia Nel, ’n boervrou in die Boesmanland, wie se kind onlangs gesterf het, het ook haar getuienis met LiG gedeel. Klein Avia (7) het tydens ’n fratsongeluk op hul plaas gesterf.

Die sewe jaar wat Avia geleef het, was opsigself ’n wonderwerk. Twee dokters het Sylvia en haar man Anton tydens die swangerskap aangeraai om die baba te laat aborteer. Volgens dié dokters het die ongebore kind nie ’n brein gehad nie.

Sylvia en Anton vertel dat hulle ’n duidelike boodskap van God ontvang het dat daardie keuse nie by hulle lê nie. En van toe af het hulle vir Avia op haar naam begin bid, en die Here vir haar lewe gedank. Dié kleinding is uiteindelik met spina bifida gebore, en het ’n normale lewensverwagting gehad.

Daarom het 11 Junie 2025 se tragedie die Nel-gesin behoorlik tot stilstand geruk. Sylvia vertel: “Avia en haar broer Brand (9) het buite gespeel. Ek het Brand se benoude gille gehoor en dadelik geweet dat daar iets groots verkeerd is. Hy het onophoudelik vir my geskreeu dat Avia nie haar oë wil oopmaak nie. Avia het onder ’n boom in haar rolstoel gesit.”

Dit het geblyk dat Brand haar in haar rolstoel gestoot het, dat sy uitgeval en op haar kop beland het. Brand het haar weer in haar rolstoel gesit, maar sy het begin stuiptrekkings kry. Sy het kort daarna gesterf.

Ná die ongeluk, vertel Sylvia, het Brand baie swaar gekry. Sy erken sy was aanvanklik kwaad vir haar seuntjie, maar God het haar vrygemaak. “Ons hanteer Brand met die liefde wat ons van die Here ontvang het. Ons het net ná die ongeluk vir Brand dankie gesê dat hy op daardie noodlottige dag met sy sussie gespeel het. En dat wat gebeur het nie sy skuld is nie.

“Jy kry ’n ander verstaan van die ewigheid wanneer jy ’n kind verloor. Die ewigheid word vir jou as ’t ware tasbaar. Avia is nou by die Here – sonder enige gebrek, sonder ’n rolstoel. In die hemel is daar geen trane nie, net Goddelike vrede. Dit is waaraan ek vasklou.”

‘Hoekom moes ek agterbly met soveel seer?’

Louisa en Johan Coetzer het hul twee dogters in 2022 aan die dood afgestaan. Janke (19) en haar sussie Lize (16) het in ’n gru-ongeluk tussen Hartswater en Jan Kempdorp in die Noord-Kaap gesterf. Sy het haar getuienis met LiG gedeel.

Hoe begin ’n mens in sulke omstandighede weer lewe? “Jou kinders is tog jou identiteit,” sê Louisa. “En eensklaps is jou identiteit daarmee heen. Die lewe voel dan soos ’n reis sonder enige eindbestemming; jy is heeltemal rigtingloos. Soms voel dit my dis amper onmoontlik om die reis te voltooi.”

Louisa het in hierdie donker tye besef dat God se liefde die enigste manier is om die eindelose leegheid te vul. “My geloof het my die krag gegee om elke dag saam met Hom aan te pak, dit tree vir tree te doen.

“God is jou antwoord op alles. Ek het sy hemelse vrede in my hart laat nesskop.”

Maar nie elke dag is ewe maklik nie. Soms raak Louisa opnuut opstandig. “Wanneer dit gebeur, wanneer my emosies die oorhand kry, wil ek so graag vir Jesus kwaad wees omdat ek moes agterbly met soveel seer. ’n Seer wat dan te veel word.

“Maar gou skyn die son weer, en word die pyn effens minder.

“My geloof in my liefdevolle Vader stel my in staat om met my verlies saam te leef. Die seer word elke dag ’n bietjie draagliker, hoewel daar dae kom dat al die emosies my wil oorweldig. Dan bly ek bid vir genoeg kalmte en krag om die pyn te kan hanteer.”

  • Conette le Roux is LiG se webredakteur en staan aan die stuur van die getuienisafdeling.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Bou ’n Toekoms

Belê in ’n Christelike toekomsplan en laat iets aan die volgende generasie van gelowiges na…

Vertel my meer

Maak ’n nalatenskap

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Vertel my meer

Red ongelowiges

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Vertel my meer

Maak godsdiens vir kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF