Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Moenie jou pyn in stilte dra nie,’ sê verkragtingslagoffer wat 30 jaar lank geswyg het

“Ek hou nou nog nie daarvan as iemand aan my nek vat nie,” sê Leilani Kuter (50) van Johannesburg. Sy was maar 18 jaar oud, vol hoop en vol drome, toe haar lewe onherroeplik verander het.

Sy het destyds by die Departement Finansies gewerk en in ’n jeugsentrum in Pretoria gewoon. Op 16 September 1992 het sy verlof geneem om haar kamer in die sentrum op te knap.

Nadat sy die dag by die swembad deurgebring het, het sy na haar kamer teruggekeer om vir Dewald te wag, ’n jong man met wie sy in daardie stadium uitgegaan het. Sy het die pyltjie op haar kamerdeur se kennisgewingbord geskuif om aan te dui dat sy in die kamer is.

Toe kom daar ’n klop aan die deur. Wat sou volg, kon sy nie in haar wildste drome voorsien nie.

LEES OOK: ‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’

By die deur was ’n jong man wat hom as “Frankie” voorgestel het. Hy het haar vertel dat sy ouma oorlede is en dat hy sy suster, wat in dieselfde gang  bly, probeer opspoor.

Leilani sê sy het hom jammer gekry, maar sy kon hom nie help nie aangesien sy toe nog niemand daar geken het nie. Sy het die deur op ’n skrefie gelaat terwyl sy op Dewald gewag het.

Oomblikke later was Frankie weer daar, en hy het haar onverwags oorval. Hy het haar met ’n gordel gewurg en sy het haar bewussyn verloor.

Toe sy oplaas wakker word, was die gordel steeds styf om haar nek. En sy was alleen. Daar was bloed op haar nuwe duvet, en die herinnering aan ’n nagmerrie wat sy nooit gekies het nie.

“Vreemd genoeg,” sê sy, “is ek eintlik dankbaar dat hy my so hard gewurg het dat ek my bewussyn verloor het. Nou hoef ek nie saam te leef met die beeld van die verkragting nie.”

Genesing deur vergifnis

Die pad na genesing was nie maklik nie. Leilani kon jare lank nie oor die voorval praat nie; dit was bloot “die insident”. Sy kon doodgewoon geen woorde vind vir wat sy beleef het nie.

Eers toe sy die Turning Point-kursus afgelê het om haar trauma te verwerk, het haar pad na herstel begin. Daar het sy ’n voormalige verkragter ontmoet. Aanvanklik was sy kwaad, maar daarna het hulle ’n betekenisvolle pad saam gestap, wat haar uiteindelik na vergifnis gelei het.

“Ek glo God het ’n plan gehad,” vertel sy. “Ek moes daardie man ontmoet om te besef dat vergifnis bevryding is, en dat ek sterk genoeg is om hierdie trauma te verwerk.”

Jare later het Leilani ’n ambisieuse projek aangepak: Sy het haar pyn gebruik om ’n verskil aan ander slagoffers se lewe te probeer maak. In 2019 het sy Yellow for Survivors tot stand gebring (haar verkragter het ’n geel T-hemp gedra). Dit was ’n liefdadigheidsorganisasie waarmee sy geld ingesamel het vir die ondersteuning van slagoffers van seksuele geweld. Sy het binne drie jaar sowat 3 000 km gestap – een kilometer vir elke jaar sedert daardie traumatiese dag.

Uiteindelik het sy byna ’n miljoen rand ingesamel. Sy sê: “Ek wou die boodskap uitstuur dat as ék kon oorleef en voortgaan, kan ander ook. Ek het elke tree gegee vir almal wat dieselfde trauma moes deurmaak.”

In dié tyd het Leilani elke dag met nuwe hoop gestap. Sy het nie net vir haar eie genesing gestap nie, maar vir ’n gemeenskap wat dikwels in stilte ly. “My staptog was ’n oproep tot aksie: Ek het elke tree gegee as opstand teen die geweld teen vroue. Ek wou ’n verskil maak, al was dit net deur vir ander vroue hoop te gee.”

’n Nuwe koers

Leilani het in 2022 halt geroep met Yellow for Survivors. “Ek het dit op die 30ste herdenking van my verkragting gesluit, en ek stap nou net om fiks te bly. Ek voel dat ek my deel gedoen het en dat dit nou tyd is om ’n ander koers in te slaan.”

Haar reis is egter nog lank nie verby nie. Hoewel sy nie meer stap om geld in te samel nie, gebruik sy steeds haar verhaal om hoop te bring.

Leilani sê sy het ná haar traumatiese ervaring ’n diep waardering vir die lewe ontwikkel. “Ek het besef hoe kosbaar die lewe is, en dat God my gebruik om ander te help. My genesingspad het my geleer dat daar sóveel mense is wat met seer rondloop, en dat ons verdraagsamer teenoor mekaar moet wees.”

Leilani het ’n spesiale boodskap vir vroue wat, soos sy, verkrag is. Sy beklemtoon die krag van vergifnis, dit wat haar bevry het van die emosionele kettings van haar trauma. Sy sê: “Vergifnis is bevrydend, en jy moet begin deur jouself te vergewe.

“Baie slagoffers neem hulleself kwalik; hulle sukkel om te besef dat dit nie hulle skuld is nie.

“Probeer dan om die een wat jou seergemaak het te vergewe. Gun jouself genoeg tyd om dit te doen, want trauma het geen vervaldatum nie. Jy verdien om gelukkig te wees, want deur vergifnis neem jy opnuut jou krag in besit.”

Pyn moenie in stilte gedra word nie

Leilani moedig vroue ook aan om nie hul pyn in stilte te dra nie. “Praat asseblief daaroor,” sê sy. “Moenie skaam wees nie, en moenie jou liggaam siek maak as gevolg van die seer en bitterheid nie. Jou stem het mag, en dit kan jou help om jou lewe weer in jou eie hande te neem.”

Leilani se storie is ’n getuienis van geloof, krag, en die vermoë om aan te hou, selfs wanneer die lewe jou platslaan. Sy sê: “Ek besef nou dat God my daardie dag gered het. Hy het my lewend gehou sodat ek hierdie storie kan vertel, sodat ek ’n lig kan wees vir ander wat donker tye deurmaak.”

Hoewel Frankie, die verkragter, nooit in hegtenis geneem is nie, het sy vrede gemaak met die onopgeloste deel van haar verhaal. Haar lewe is gevul met doelgerigtheid en ’n brandende begeerte om ander vroue te inspireer.

Haar woorde en dade is ’n bewys dat, hoewel ’n mens jou weg deur pikdonkerte moet probeer baan, daar altyd ’n nuwe dag aanbreek – ’n dag vol hoop en vergifnis. ’n Kans om weer te begin.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF