Chrisna Verwey, ’n enkelmamma van die Strand in die Wes-Kaap, skryf hier ’n brief uit haar hart. Sy vertel hoe dankbaar sy is dat haar twee kleuters oorleef het nadat hulle ’n jaar gelede by die dood omgedraai het. Sy vertel van die Here se goedheid en genade, en sy soebat almal wat haar brief lees om te waak teen die fout wat sy gemaak het.
Ek skryf vanaand vanuit ’n mamma se hart. Ek het ’n groot fout begaan; dit was iets wat binne ’n breukdeel van ’n sekonde ons gesinnetjie se hele lewe verander het.
Ná die voorval was my twee kinders drie maande lank in die Rooikruis-kinderhospitaal, die eerste twee weke in die intensiewesorgeenheid en aan ventilators gekoppel. In hierdie tyd was hulle drie keer so byna-byna dood. Dit was tye waarin ook die dokters min hoop gehad het.
LEES OOK: Vrou wat drie kinders tuis versorg: ‘God help my om die wedloop met ’n blye hart af te lê’
Daar het ek beleef hoe kleef die reuk van gebrande vel aan jou, dae lank. Hoe die stilte in ’n kinderbedjie, wanneer jy nader stap en daar geen beweging of asemhaling is nie, jou paniekbevange maak.
Die mediese personeel het my aangemoedig om sonder ophou met my kinders te praat, sommerso tussen hul baie verbande deur, want hulle kon my stem hoor. Intussen het ek my knieë deurgebid.
Weke lank het ek swaar gedra aan die wete dat my seuntjie Luandre (3) en dogtertjie Mianey een oomblik nog kon asemhaal en die volgende oomblik kon dood wees. Mianey het nie besef sy het in die hospitaal vyf jaar oud geword nie.
Ná hul oorplasing uit die intensiewesorgeenheid na die brandwonde-eenheid moes hulle in afsonderlike kamers lê. Terwyl elkeen my nabyheid ewe nodig gehad het, moes ek etlike kere per dag die streng sanitasie-voorskrifte nakom: hande was, ’n nuwe voorskoot aantrek, én ’n masker en handskoene voordat ek by die kamer langsaan kon ingaan. Daar was vreemde geluide in die gang. En die reuk van wonde, wat tot gevolg gehad het dat ek soms nie kon asemhaal nie, al was die gange blinkskoon en ’n mens spreekwoordelik van die vloer af kon eet.
Daar was tye wat die spanning my oorweldig het. Dan het ek buitentoe gestorm en die bome gaan verskree. Sekerheidswagte het my kom bemoedig, hul hande op my gelê, vir my gebid. Dit het my getroos, so tussen al die kwelvrae deur en al die “hoekom?” en “waarom?”.
‘Ek sou gou maak …’
Dan het die gebeure van 27 Augustus 2023 weer voor my afgespeel, toe ek daardie Sondagoggend voor ’n kafee in die Strand gestop het. Ek sou gou maak en het die kinders in die kar toegesluit.
Ná twee minute in die kafee was ek by die betaalpunt. Ek het gesien hoe Luandre uit die kar vir my waai – en die volgende oomblik het ’n sekerheidswag kom sê dat my kar aan die brand is.
Ek het kar toe gehardloop, maar die afstandbeheer kon nie die deure oopsluit nie. My gille het ander mense laat nader kom. Ek kon die deur aan die bestuurder se kant met die sleutel oopsluit en Mianey uithaal. Van die omstanders het ’n ruit uitgeslaan om Luandre te probeer uitkry.
Hul beserings was érg: derdegraadse brandwonde oor 45% van Luandre se kop, gesig en bolyf, met dieselfde soort brandwonde oor 35% van Mianey se kop, gesig en voorlyf. Albei het 10% skade aan hul lugweë opgedoen.
Ons weet tot vandag nie wat die brand veroorsaak het nie.
Tewyl die kinders om hul lewe geveg en ek en my ma langs hul onderskeie beddens gewaak het, het ek elke oomblik die Heilige Gees se teenwoordigheid beleef.
Toe hulle begin herstel en etlike veloorplantings moes ondergaan, het die mediese personeel se bekwaamheid en vriendelikheid my oorweldig: dokters, verpleërs, narkotiseurs, arbeids- en spraakterapeute, dieetkundiges, sielkundiges, skoonmakers en sekerheidswagte.
En terwyl die tweetjies se toestand stadigaan begin verbeter het, het ek besef dat die Here ’n groter plan met hul lewe het.
Geleidelik het Mianey weer geleer om te loop en te praat. Dit was kosbare oomblikke. Haar eerste woorde was die mooiste geluid! Sy het my vertel Jesus het haar uit die brandende motor gehaal.
Luandre se herstel duur egter veel langer. Toe die dokter hom drie maande ná die ongeluk wou ontslaan, was ek baie ontsteld: Luandre kon dan nog nie loop óf praat nie! Wie gaan hul verbande ruil?
Ek het eensklaps besef: Die hospitaal het my “nuwe normaal” geword. Ek moes veg teen die vrees vir wat buite die hospitaal op ons sou wag.
Drie maande lank het ek intense kommunikasie met God die Vader en die Heilige Gees beleef. Ek sou dit vir niks verruil nie. Verder was ek so besig met my kinders dat ek feitlik alle kontak met die buitewêreld verloor het.
Ek moes my werk en my studie as grondslagfase-onderwyser staak. Waar sou ons inkomste vandaan kom?
Die dokter was daarvan oortuig dat Luandre vinniger by die huis sou herstel. Ook hier het die Here vrede en berusting in my hart kom gee.
Die kinders se tuisversorging was ’n groot uitdaging. Sommige van hul wonde was nog rou. Ek en my ma het dikwels bloot gehoop ons doen die regte ding wanneer ons hul verbande ruil.
Daarby was ons hartseer oor al hul seer en hul baie vrese. Hulle was steeds erg getraumatiseer. En hulle was bang vir alles: vir ’n skêr, vir pleisters, vir enigiets wat soos ’n naald lyk.
Baie vinnig het drukkleding, die massering van littekens en allerlei oefeninge my voltydse werk geword.
Ons is hartseer omdat Mianey vier vingers verloor het. Ek en Luandre is hierdie week terug in die Rooikruis-kinderhospitaal vir nog ’n operasie aan sy vingers. En ons is bekommerd omdat sy spraak nog nie herstel het nie.
’n Vriendin het ’n “Back-a-Buddy”-veldtog geloods, en sedertdien dra wildvreemde mense se donasies ons deur al die uitdagings. Ek is so dankbaar vir almal wat bydra!
Intussen probeer ek om klere aanlyn te verkoop.
‘Spyt kom altyd te laat’
Mianey en Luandre is van Februarie vanjaar af drie dae per week in dagsorg. Hulle het goed aangepas en hulle geniet die nuwe maats.
Bid asseblief saam met my dat hulle nie oor hul voorkoms gespot sal word nie. En as dit wel gebeur, dat hulle sal leer hoe om dit te hanteer.
Ek besef ek moes my kinders nooit alleen in die kar gelaat het nie. Dit was ’n oordeelsfout wat ek vir die res van my lewe sal berou. Ek bid dat ouers hieruit sal leer.
Ek bid dat elke ouer of versorger sal besef: Moenie ’n kind alleen in die kar laat nie; maak kinders se sitplekgordel vas; moenie met ’n kind op jou skoot ry nie al gaan julle “net gou-gou” kafee toe.
Spyt kom altyd te laat. Pas jou kind/ers op en vergeet van “gou-gou”. Geen mens kan die horlosie terugdraai nie.
Ek vertel my verhaal omdat ek opnuut besef God is groot en almagtig. En ek weet nou hoeveel vriende en vriendinne en soveel ander mense regtig omgee, en hoe mense hul hart vir ons oopmaak.
Intussen gebruik die Here hierdie swaar pad om my geestelik te laat groei, en ook daaroor is ek dankbaar.
Mag my getuienis iewers ’n verskil in iemand anders se lewe maak. Onthou Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek is met jou. Moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
* Gaan kyk gerus by hulle BackaBuddy-rekening indien jy wil help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.