Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ek en my ma: Wanneer die rolle omgekeer word …

Asof in ’n dwaal stop ek voor die groot, swart gietysterhekke. Ek voel skuldig, asof ek met iets onwettigs besig is.

Ek voel emosioneel leeg, is in oorlewingsmodus. Ek glimlag wanneer ek moet, haal asem omdat ek moet. En ek dink nie te veel nie, anders breek ek in duisend stukke.

Die hekwag maak die swaar hek flink oop en lig sy hand in ’n vriendelike groet. Hy glimlag breed.

Ek stop onder ’n groot koelteboom. Nou eers kom ek agter dat ek my asem ophou.

Nadat ek diep ingeasem het, blaas ek stadig uit. Maan myself woordeloos om tog net nie te begin huil nie.

LEES OOK: My geliefde het demensie

Bly sterk, moenie huil nie. Stap hierdie pad treetjie vir treetjie. Jy kan dit doen!

“Goeiemôre,” groet ek die hekwag. “Waar is die kantoor?”

“Mevrou stap verby hierdie gebou, draai links. En as Mevrou reguit aanstap, sal Mevrou die kantoor kry.”

My oë brand van die min slaap, ek voel naar en bewerig. Die trauma van die afgelope week was net te groot.

Wanneer ek links draai, begroet ’n pragtige tuin met reusagtige groot bome my. Geplaveide paadjies kronkel in verskillende rigtings.

Op ’n bankie sit ’n lang vrou met kort, grys hare. Ek skat haar iets in die vyftig, ongeveer so oud soos ek. Netjies geklee in ’n gemaklike blou langbroek en strepieshempie.

Wanneer sy my sien, spring sy op en loop tot by my. “Hallo, Tannie!” sê sy opgewek. Soos ’n klein dogtertjie.

“Hallo,” groet ek terug.

“Kom kuier Tannie vir iemand?”

“Nee …”

’n Paar sekondes lank weet ek nie wat om te sȇ nie, ek kan nie die woorde vorm nie.

Vol verwagting kyk sy na my.

Dan sê ek dit: “Ek bring later my ma. Sy kom bly by julle.”

Opgewonde klap sy haar hande, glimlag van oor tot oor. “Wat is haar naam, Tannie?”

Ek sluk. Sukkel die woorde uit: “Haar naam is Johanna.”

“Johanna! Ek kan nie wag dat Tannie haar bring nie!”

Sy gaan staan half op aandag en verklaar plegtig: “My naam is Mina en ek belowe dat ek baie mooi na Tannie se ma sal kyk. Sy sal my beste maatjie wees!”

“Baie dankie, Mina,” sê ek. “Ek is bly om te weet dat jy haar maatjie gaan wees. Sy maak nie maklik maatjies nie, maar ek kry so die gevoel dat julle twee goed oor die weg sal kom.”

Aan die linkerkant van die paadjie is netjiese klein wooneenhede, elk met ’n gaasdeur en ’n klein tuintjie aan die voorkant. Regs van die paadjie is ’n opgeboude stuk tuin met pragtige vetplante en kleurvolle struike. Dié deel van die tuin loop dood teen die eetsaal, kombuis en speletjieskamer.

Net duskant die kantoor met sy groot vensters kronkel die paadjies na links en regs. Links is nog wooneenhede, ’n groot stoep en ’n gesellige tuinstelletjie. ’n Grasperk met die mooiste blomme en ’n massiewe koelteboom pryk in die warm oggendson.

Ek merk die oulike tuisgemaakte kunswerkies wat lui-lui aan die takke van die boom swaai.

Die paadjie wat regs afdraai, verdwyn in nog paadjies. Dit kronkel tussen bome deur wat sekerlik honderde jare oud moet wees. Voëlhokke, vrugtebome en nog lieflike struike en blomme loer tussen die bome uit.

’n Man met ’n been wat by die knie afgesit is kom met sy rolstoel aangejaag. Ek moet behoorlik uit die pad spring. Sy yl, grys haartjies staan penorent soos die wind daardeur waai.

Ek kan nie help om te glimlag nie. Hier is iemand wat sy lewe geniet, ongeag die omstandighede. Hy maak die beste van wat hy het. Hy en sy Harley-Davidson.

Nadat al die papierwerk voltooi is, loop ek en die bestuurder Melandrie na Fragile Care. Melandrie is ’n pragtige donkerkop met groen oë en ’n groot hart. Haar oë is vol deernis en haar glimlag raak saggies aan my hart.

“So, jou mamma word môre met die ambulans gebring?”

Sy vryf die groot hond langs haar. Hy is daar om liefde te gee aan die inwoners. Ek het ook een of twee katte gesien.

“Ja, sy het ’n week gelede by haar woonstel onverwags in ’n koma verval.”

Dit voel of my hart opnuut uitmekaarskeur. Ek wil dit nie weer beleef nie. Ek wil haar nooit weer so sien nie. Op die grond, rukkend en roggelend. Onwaardig.

Melandrie se oë skiet vol trane. Sy raak vlugtig aan my arm.

Saggies vertel ek verder, en probeer om nie te begin huil nie.

“Sy sal nooit weer dieselfde wees nie. Haar lyf en haar brein het baie seergekry. My ma is eintlik baie sieklik, sy is ’n diabeet, sy het hartprobleme. En vanoggend is sy met demensie gediagnoseer.”

Demensie. Ek het gedink ek weet, maar ek het niks daarvan geweet nie. Totdat dit met sy wrede kloue gekom en my ma gesteel het. Ons het nie geweet waarom sy so “anders” word nie.

Melandrie kyk ernstig na my, sy sê: “Baie, baie sterkte.”

Hoeveel mense het dit nie al vir my gesê in die kort tydjie ná die diagnose nie …

Ons stap by die Fragile Care-voordeur in. In die eet-sit-televisiekamer sit hulle:

vier gryskoppe voor ’n groot, blêrende televisiestel. Hulle slaap, kop agteroor. Twee vroue, wat ’n ma en dogter kan wees, sit en kyk na ons. Hulle reageer nie toe ek groet nie.

Ons stap in ’n lang gang. Ons is op pad na my ma se nuwe kamer. Geel ligte teen die dak. Allerhande reuke – Vicks, skoonmaakmiddels. En middagete wat voorberei word.

Eensklaps onthou ek: Mamma wat my in graad een by die koshuis aflaai. Ek onthou hoe ek onder die bed probeer wegkruip. Probeer ontsnap van alles wat so oorweldigend was. Alles en almal was nuut, vreemd. Nuwe geluide, nuwe reuke, nuwe reëls.

Hoe gaan my ma nie voel nie …

Gaan sy dink ek gooi haar weg? Gaan sy my verwyt? Gaan sy ooit hier aanpas?

Die kamer is klein, koud, onpersoonlik. Gelukkig het dit ’n eie badkamer. Alles is ingerig vir iemand wat met hulp oor die weg moet kom. Iemand soos my ma.

Daar staan ’n soort hospitaalbedjie teen die muur. ’n Bedkassie.

En ’n rolstoel. Ek byt op my tande. Sy sal daarin gestoot word – eetsaal toe, buitentoe, oral waar sy moet wees.

Ek is dankbaar vir die groot venster wat op die tuin kyk. En ek sien nou die bed staan so dat sy deurentyd na die tuin sal kan kyk. Ek weet dat sy daarvan sal hou.

Ek gaan staan voor die ingeboude kas en kyk na die leë rakke. Ruik die hout. Die seep-en-poeier-reuke van hoeveel ander wat voor my ma in dié kamer gebly het.

Op pad terug na my motor toe, met ’n lang lys moets en moenies en allerhande dingetjies wat ek moet voorsien, besef ek dat die rolle nou omgekeer is. Dis nie meer my ma wat moet sterk wees en my by die koshuis aflaai nie; ék moet nou sterk wees en my ma by hierdie koshuis aflaai. Haar so gemaklik moontlik maak. Haar troos. Haar bemoedig.

Ék moet nou die besluite neem, ek moet die sterk een wees. Al voel ek skuldig omdat ons so baie in mekaar se hare was die afgelope ruk. Omdat ek soms ongeduldig was. Omdat ek glad nie verstaan het nie.

Maar ek weet ek sal die pad saam met haar stap, so dapper as wat ek kan. Ek en sy, en die demensie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.