Sóveel mense het die afgelope jare hul hart oopgemaak en hul kosbare storie met die LiG-lesers gedeel. Nou word dit Kersfees, en almal dink in dié tyd weer ver terug …
Van stoksielalleen na ʼn familiefees
Arine Helmand (hooffoto) het onlangs in ’n #liggetuienis van haar 17 jaar lange stryd met dwelmverslawing vertel.
Sy dink terug: “Ek onthou ʼn Kersfees wat ek stoksielalleen in my woonstel in Frankfort in die Vrystaat deurgebring het. Ek het, toe ek nog verslaaf was, die meeste van die tyd in my dwelmsmous se motorhuis gebly. Dit was die eensaamste tyd in my lewe. Ek wou nie by my familie wees nie, en hulle wou my ook nie by hulle gehad het nie. Maar in 2024 het die perfekte Kersfees aangebreek. Ek was toe reeds twee jaar lank van my dwelmprobleem verlos. Ons hele gesin het bymekaargekom vir ʼn tradisionele familiefees. My verhouding met my familie is herstel. Genesing van dwelms behels nie net jou eie heling nie, maar ook die genesing van jou familie. Daardie Kersfees was die beste ooit. Ek dank die Here vir wat Hy vir my gedoen het.”
‘Ek hou aan God se genade-belofte vas’
Susan Boshoff het in 2024 met LiG gepraat nadat haar seun sy eie lewe geneem het.

Vir haar is die Kersgety een van liefde en omgee.“Dit is ook ʼn bevestiging van ʼn regverdige Vader wat my liefhet en my tot by die einde van nog ʼn lewensjaar gebring het. Dis wel in dié tyd wat my seun Victor sy eie lewe geneem het. Maar God, wat ook sý Seun afgestaan het, het my uit ʼn baie donker plek gered. Jesus het gesê: ‘God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê’ (Joh 3:16). Daarom hou ek ook in hierdie Kerstyd vas aan sy belofte van onbegrensde genade.”
‘Jesus se koms is God wat met hoop ons wêreld binnestap’
Regardt van den Bergh het onlangs aan LiG vertel hoe die ommekeer in sy lewe lyk, en hoe hy probeer om elke dag soos Jesus te leef.

Volgens hom het Kersfees veral dié betekenis: “Geestelik gesproke is ons nie almal op dieselfde plek nie, maar tydens Kersfees neem ons mekaar se hande om dieselfde tafel. Elkeen het ʼn eie manier om stil te word voor die misterie van God. Jesus se geboorte is meer as slegs ʼn oomblik in die geskiedenis; vir my is dit God wat met sagtheid, nederigheid en hoop ons wêreld binnestap. Wat ʼn wonderlike wete! Die Kerstyd is ʼn seisoen waar liefde vorm aanneem in ons huis, in ons geloof en in die goeie dade wat ons aan mekaar bewys. Kersfees herinner my daaraan dat die hemel die aarde aangeraak het. Dat die Vader sy vesting in die mensdom kom maak het. Daarom kan ons sy lig laat skyn, die toekoms in.”
‘ʼn Tyd van stilte en oordenking’
Isabella en Gerrie Bezuidenhout het onlangs van hul 53 jaar lange reis saam met hul drie verstandelike gestremde kinders vertel.

Die Bezuidenhouts sê dat Kersfees vir hulle ʼn selflose tyd is. “Ons sal vanjaar weer saam met ons drie kinders Kersfees vier, sowel as met Huis Minette se inwoners. Baie van hulle het nie familie nie. Kersfees is vir ons ʼn tyd van stilte en oordenking. Jesus se geboorte is immers ʼn Goddelike wonderwerk. Ons plaas ons lewe onder ʼn vergrootglas om meer soos Jesus te wees. Dis ʼn tyd om uit te reik, al is dit bloot met mooi woorde aan ander.”
‘ʼn Tyd om oor die lewe te dink’
Grace Stevens het aan LiG vertel hoe sy ʼn bykans ondenkbare dubbele verlies gely het toe twee van haar babas se skedel, vanweë ʼn seldsame geboortedefek, nie ontwikkel het nie.

“Kersfees is vir my ʼn tyd om oor die lewe te dink,” sê Grace. “Dis ongetwyfeld familietyd. Ek het twee dogtertjies verloor, en familie is dus vir my baie belangrik. Ons vier ʼn tradisionele Kersfees. Met die Kersete sit ons dan almal saam om ʼn tafel. Tradisie in dié tyd maak vir ons gesin baie saak. Dis voorspelbaar en daarom kan ons rustig en ontspanne wees. Tog vergeet ons nooit dat dit die dag herdenk waarop ons Verlosser gebore is nie.”
‘Vanjaar sit ons om dieselfde tafel as ons geliefdes’
Louise en Quinton Williams was 15 jaar lank op straat. Hulle het alles wat hulle gehad het aan dwelms uitgegee.
“Toe ons nog op straat was, het ons dikwels gedink aan ons familie se saamwees terwyl ons skarrel vir kos. Dit was baie hartseer. Maar God het ingetree en ons nuut gemaak. Vanjaar sit ons om dieselfde tafel as ons geliefdes. En volgende Kersfees het ons dalk ons kinders terug.”

Louise sê: “Ek en Quinton gaan ook hierdie jaar hawelose mense bederf met koeldrank en skyfies om die Here te eer vir wat Hy vir ons gedoen het.”
‘ʼn Stuk van ons is weg’
Annette le Roux vertel dat hul eerste Kersfees sonder hulle dogter Vasti bitter swaar was. Vasti het in 2023 tydens ʼn staptog naby Robertson verdrink.

“Met ons eerste Kersfees ná die tragedie het ek en my man die vreemdste gevoel ervaar: Dit het gevoel asof ons nêrens hoort nie. ʼn Stuk van ons was weg. Die twee ander kinders was elders en ons was heeltemal alleen. Maar vanjaar het ons besluit om by die kinders en die kleinkinders aan te sluit vir ʼn Kersfees op Plettenbergbaai. Vasti se afwesigheid sal altyd ʼn faktor wees, maar ek troos my moederhart met my seuns en my kleinkinders.”
‘Kosbare oomblikke waarin ons stadiger asemhaal’
Annemarie Botes was so vasgevang in haar disfunksionele huwelik dat sy uit desperaatheid probeer het om haar man met ʼn oordosis medikasie om die lewe te bring. Sy het in haar getuienis aan LiG vertel dat sy God se stem gehoor het, wat haar tot haar sinne gebring het.

Annemarie sê: “Vir my is Kersfees ʼn tyd vir familie. Ons deel daardie kosbare oomblikke waarin ons stadiger asemhaal, saam om die tafel sit en net weer kan mens wees. Dit is ook ʼn tyd vir diepe dankbaarheid oor God se ontferming en sy genade deur die jaar. Natuurlik gaan Kersfees bowenal oor die viering van Jesus se geboorte. Dis die kern van alles.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















